Eysenck glo dat ons anti-sosiale gedrag in toom gehou word deur 'n gekondisioneerde onderbewuste en nie deur die deel van die brein wat logiese denke beheers nie. Want, sê hy, as jy rasioneel daaroor dink, vertel jou brein eintlik vir jou dat misdaad sin maak. Die hoof rede waarom ons ons onthou van misdaad is omdat die gekondisioneerde onderbewuste 'n rem op anti-sosiale gedrag is.
Onthou dat Eysenck 'n skerp teoretiese onderskeid maak tussen die leerprosesse wat ons rasionele denke omvat, aan die een, en kondisionering aan die ander kant. Laasgenoemde skuil in 'n deel van die brein wat saamhang met die emosies - daarom dat ons 'n skuldgevoel het omtrent anti-sosiale gedrag. Ons rasionele denke (en leerprosesse) is emosioneel meer neutraal en logika word nie deur die onderbewuste gedryf nie.
Logika dikteer dus (aldus Eysenck) dat die kanse dat jy sal moet boet vir jou anti-sosiale gedrag so skraal is dat dit meer aantreklik is om jou in misdaad te begewe as om vroom te lewe. Dit is net die feit dat 'n afkeer van anti-sosiale gedrag in ons ingedril (gekondisioneer) word en 'n deel van ons onderbewusyn word, wat die meeste mense van misdaad weghou.
Hier is na my mening 'n teenstrydigheid. As dit so onlogies is om vroom te lewe hoe het dit dan gekom dat ons gemeenskaplike lewenswaarhede ons noop om ons kinders te kondisioneer in die weë van geregtigheid en vroomheid? As misdaad betaal, hoekom stroomop voeter en die kinders opsaal met teenstrydighede. Hoekom leer ons hulle dan nie dat 'n lewe van misdaad hulle weg sal vergemaklik nie?
Ek is van mening dat Eysenck die bal hier mis slaan. Die meeste gemeenskappe aanvaar dit as 'n gegewe dat wet en orde en sosiale gedrag noodsaaklik is om gemeenskappe tot stand te bring en te laat vlot. Daar is wel stamme in Indië wat van misdaad lewe maar hulle het steeds wetsgehoorsame samelewings nodig om op te teer. Op 'n rasionele vlak (aanvullende tot die gekondisioneerde vroomheid) dus is daar ook 'n dryfveer wat mense aanpor om sosiaal (vroom) te lewe.
Dit mag wees dat die enkele individu mag argumenteer dat sy dwaling nie die alsiende oog sal vang nie, maar in meeste gevalle (na my mening) sal hy erken dat indien almal sou optree soos hy, die samelewing in chaos sal verval.
Daar is dus bo en behalwe die gekondisioneerde vroom onderbewussyn 'n sterk rasionele basis om anti-sosiale gedrag te verafsku. Hierdie rasionele basis na my mening speel 'n veel groter rol in ons lewens om anti-sosiale gedrag te temper as wat Eysenck beweer.
Hierdie leemte in Eysenck se siening veroorsaak dat hy straf as 'n afskrikmiddel grootliks negeer asook al die meganismes (soos kultuur) wat beskawingsnorme van geslag tot geslag oordra om sosiale gedrag bevorder. Die normale leer- en denkprosesse wat aangewend kan word (en ook effektief is) om die bose te besweer word nie genoegsaam erken in sy leerstukke nie. Miskien is hierdie meganismes nie so sterk soos die kondisionering van die paleocortex (die breinbasis van kondisionering) nie, maar dit sou tog onsinnig wees om hulle te ignoreer in die soeke na die dryfvere van anti-sosiale gedrag.
As die mens kan leer om 'n mes en vurk te hanteer, kan hy tog seker ook leer dat dit verkeerd is om te steel. Miskien word in hierdie leerproses gedupliseer wat die paleocortex ingedril word of miskien is dit nie so 'n sterk rem nie, maar dit maak dit tog seker nie oorbodig nie? Ek vind dit totaal teenstrydig met die idee van die mens as rasionele wese om te argumenteer dat gewone denke nie 'n mens noop om sosiaal op te tree nie.
'n Mens vra jouself ook af, gegewe die sogenaamde onlogiese van 'n vroom lewe, waar kom die gemeenskap se dryfveer om sosiale kondisionering toe te pas vandaan (iets wat Eysenck vanselfsprekend aanvaar)? Die dryfveer (ek noem hierna maar dit maar sommer 'n drang) om nuwe aankomelinge te kondisioneer in die vroom rituele van die gemeenskap val tog seker nie uit die lug uit nie? Is dit nie 'n geval dat die bestaan en inhoud van hierdie drang hoofsaaklik kultuur gedrewe is nie? In so 'n geval moet daar tog 'n rasionele proses van 'n aard betrokke wees in die vorming van die kultuur wat die gemeenskap se ervaring van die voordele van die vroom lewe weerspieël ....
Of miskien word die drang om ander te kondisioneer om vroom te lewe self ook dalk deur 'n proses van kondisionering vasgelê ? Of miskien deur beide kultuurwerking en kondisionering? Selfs al word die drang om kinders vroom te kondisioneer deur 'n kondisioneringsproses vasgelê of al is dit moontlik instinktief, erken Eysenck implisiet dat die voorskrifte oor wat vroomheid behels, kan verander. Dit wat die kinders dus deur kondisionering ingeskerp word, kan verander. Hy spekuleer bv dat die huidige verswakkende toestand in morele weerbaarheid toegeskryf kan word aan onder andere die arme Dr Spock se liberale voorskrifte omtrent die grootmaak van kinders.
Ons het dus die situasie dat wat ons die kinders indril, doelbewus kan verander in ooreenstemming met die gemeenskap se wense. Die situasie is dus nie ondenkbaar dat rasionele denkprosesse dit wat deur kondisionering ingeskerp word kan verander nie. Daar is dus 'n wisselwerking tussen kondisionering en rasionele denke.
Opsommenderwys: Na my mening speel rasionele denke wel 'n rol by die voorkoming van anti-sosiale gedrag (beide by kondisionering en die leerprosesse) en behoort dit doelbewus aangewend te word al is dit maar om die gemeenskap se bewustheid van die nadele van sosiale verval en wanorde te verskerp.
Nota omtrent sekere terme hierbo gebruik.
In 'n poging om die leesbaarheid van die argumente te verhoog gebruik ek sekere terme wat in werklikheid kodewoorde is vir meer uitvoerige begrippe wat deur Eysenck ontwikkel word.
So word die terme vroom, rasionele denke, onderbewuste en bose bv gebruik vir konsepte wat meer volledig in Eysenck se werk gevind word.
Die woord drang word 'n bietjie buite sy normale aanwendingveld gebruik.
Ook verwys ek uitsluitlik na die kondisionering van kinders. Dit sluit egter nie die kondisionering van volwassenes uit nie en Eysenck verwys uitgebreid na maniere om volwassenes ook te rehabiliteer.
Ek gebruik die terme misdaad en anti-sosiale gedrag ietwat los en vas. Baie van die teorieë fokus nie uitsluitlik op misdaad nie maar sluit alle anti-sosiale gedrag in. So ook Merton en Eysenck. Misdaad is natuurlik 'n meer beperkte vorm van anti-sosiale gedrag.