Die sagte slaap van droomland

Posted Sunday, June 10, 2007 4:43 PM by omf

 

 

Natuurlik is dit oordrewe om te verwag dat die wêreld armoede sal aanhang soos in die vorige blogpos  voorgestel. Armoede as 'n ideologie opsigself sal waarskynlik ook nie juis meehelp om bv alle geweldsmisdade te bekamp nie. Die verontregte minnaar sal nog steeds die ewige liefdesdriehoek met moord in sy hart (en 'n dolk in sy hand) invaar ongeag die armoede van sy opponent. Ons sal steeds onwettig parkeer sonder om te betaal ongeag of ons dit kan bekostig of nie. Die verheerliking van armoede is nie 'n kits-oplossing nie.

Dit is insiggewend dat selfs die edele St Francis se filosofie nie by armoede begin en geëindig het nie: Gebaai in die admosfeer van die middeleeue was ridderlikheid die ander pilaar van sy geloof. Dit maak meer sin as net 'n blote liefdesverhouding met die Fee van Armoede want ridderlikheid het 'n meer eerbiedwaardige verhouding met die wêreld  tot gevolg. Miskien sal die  ridderlike verneukte minnaar nie sy opponent wreedaardig deurboor nie...net 'n paar klappe gee.

Ten spyte van die Grote St Francis se sjarme kon selfs hy nie die Kultus van Armoede as erfenis agterlaat aan die wêreld nie, want die Hoofstroom Kerk was toe reeds stewig in kapitalisme se greep.

Vir 'n kortstondige oogknip het 'n gedagterigting mense egter meegesleur in 'n golf van medemenslikheid en omgee.

Hoe magtig is die gedagte nie. Die naakte gedagte  is miskien net 'n flits in die donker, maar as dit deur watter geheimsinnige proses ookal deel word van ons kultuur bestuur dit ons van geboorte tot dood.

Is dit nie ooglopend dat ons misdaadgolwe moet gaan soek in die vernietiging van die goeie kulturele gom van die samelewewing nie - die onsigbare instrument van sosiale beheer wat ons op die regte pad hou?

Comments

No Comments